Marburg-uitbreking verby in Guinee

Guinee het verklaar dat die uitbreking van die Marburg-virus in dié land uitgewis is nadat geen nuwe gevalle die afgelope 42 dae daar aangemeld is nie. Die uitbreking van die virus op 9 Augustus was die eerste bevestigde geval van die siekte ooit in dié land óf in Wes-Afrika. Die Wêreldgesondheidsorganisasie se Afrika-streek sê slegs een persoon het die siekte gehad en dit is eers ná sy dood gediagnoseer. Meer as 170 mense wat met hom in aanraking was en wat die siekte kon ontwikkel, is daarna vir 21 dae fyn dopgehou. Matshidiso Moeti van die organisasie sê hulle sal Guinee steeds bystaan in sy poging om die siekte te voorkom.