Man vas vir Angolese brandstof na klopjag

Daar is weer ‘n geval van onwettige handel in brandstof op Oshakati aangemeld in die polisie se misdaadverslag. ‘n Namibiese man, 40, is op die dorp in besit van nege 20-liter houers vol brandstof gevind. Die beraamde waarde is net meer as 3 700 Namibiese dollar. Die vonds was deel van ‘n klopjag wat in die nagtelike ure uitgevoer is. Die verdagte is gearresteer en sal vandag in die hof op die dorp verskyn. Die onwettige handel van brandstof, veral in die noordelike streke, word ‘n reuse-uitdaging vir owerhede.