Man dood na olifant-aanval in Bwabwata

‘n Khwe-man, die 71-jarige Matala Mafuta, is dood na ‘n olifant-aanval by die Omega 3-basis in die Bwabwata Nasionale Park. Hy was gisteroggend omstreeks halftien op pad na die landerye, sowat 800 meter suid van Omega 3, toe die olifant hom aangeval het. Mense het sy gille gehoor en na die toneel gehardloop, maar dit was te laat. Sy familie sal met 100 000 Namibiese dollar uit die mens-dier-konflikfonds van die omgewingsministerie vir sy begrafnis bygestaan word en hulle betoon hul medelye aan die slagoffer se familie. Altesaam agt mense het tot dusver vanjaar weens mens-dier-konflik gesterf – vier deur krokodille en twee elk deur olifante en seekoeie.