Man deur 40 krokodille in Kambodja verskeur

‘n Bejaarde Kambodjaanse man is deur sowat 40 krokodille verskeur nadat hy in hul kamp op sy familie se reptielplaas in Siem Reap ingetrek is. Die 72-jarige Loean Nam het probeer om ‘n krokodil wat eiers gelê het uit ‘n hok te skuif, toe die dier hom intrek aan die stok wat hy gebruik het. Ander krokodille het toegeslaan en hom begin verskeur tot hy dood is, het die polisie bevestig. Die slagoffer was die president van die plaaslike vereniging van krokodilboere, maar sy familie gaan nou sy krokodille verkoop nadat hulle hom jare lank gemaan het om nie meer die diere groot te maak nie.