Mammoet se klein oortjies, en vet boudjies was teen die koue

Die grootste genetiese assessering ooit van die wollerige mammoet het nuwe insig in die olifantneef na vore gebring. Bekend as ‘n ikoon van die Ystydperk het die mammoet spesiale aanpassings gehad soos sy donserige hare, klein ore, hoë verdraagsaamheid teen koue, die berging van vet en selfs droë oorwas. Die aanpassings was almal geneties van aard met 92 persent wat reeds met die ontstaan van die spesie teenwoordig was en meer doeltreffend geword het met tyd. Verskeie gene, soos die van groot ore, is afgeskakel. Die mammoet het ook dieselfde soort geen soos die een wat geassosieer word met ‘onkambare hare-sindroom’, ‘n toestand wat gekenmerk word deur droë en kroeserige hare wat nie plat gekam kan word nie. Al die aanpassings het die mammoet teen koue beskerm. Die mammoet het ongeveer 4 000 jaar terug uitgesterf.