Maimane in gewapende roof by kroeg

Die leier van die One South Africa-beweging, Mmusi Maimane, het ‘n beroep gedoen op ‘n hernude stryd teen misdaad nadat hy die slagoffer van ‘n rooftog by ‘n Kaapstadse kroeg was. Maimane was Woensdagaand by die kroeg in Claremont saam met ‘n familielid. Kort nadat hulle ingestap het, het drie gewapende mans die restaurant binnegekom. Hy sê hy het nie dadelik besef ’n roof vind plaas nie, omdat die kelnerin die mans gevra het of hulle ’n tafel vir drie wil hê. Maar, die mans het hul wapens uitgehaal en kontant geëis terwyl hulle die kliënte gedwing het om onder hul tafels in te klim. Klante is ook van selfone, handsakke en juweliersware beroof. Maimane sê die oomblik was soos iets uit ‘n rolprent.