Maatreëls by Noordoewer ‘willekeurig’ aangepas

Terwyl die huidige maatreëls in verband met Covid bepalings maak in verband met kwarantyn, wil dit voorkom asof die reëls by die Noordoewer-grenspos willekeurig aangepas is. Tot en met Sondagoggend, is Namibiërs wat in Suid-Afrika studeer en terugkeer met of ‘n positiewe uitslag of ‘n sertifikaat van self-isolasie, toegelaat om tot by hulle ouerhuis te reis en tuis te isoleer. Maar, Sondag is die reëls sonder enige kennisgewing aangepas. Ouers het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat en bevestig dat vanaf gisteroggend, al het die kinders ‘n toestemmingsbrief van die plaaslike gesondheidsministerie dat hulle tuis kan isoleer gehad, is hulle nie toegelaat om die Karas-streek te verlaat nie. Talle studente is onder polisiebewaking na ‘n staatsfasiliteit op Keetmanshoop geneem vir tien tot 14 dae se kwarantyn. Die uitvoerende direkteur van die gesondheidsministerie, Ben Nangombe, het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat hy ondersoek sal instel en die publiek sal inlig oor die stand van sake.