Maagdermontsteking kelder twee VRK-wedstryde

Twee wedstryde in die Verenigde Rugbykampioenskapsreeks waarin plaaslike spanne môre sou speel, is uitgestel weens ‘n uitbreking van maagdermontsteking in die besoekende spanne. Die wedstryde is dié tussen die Lions en die Glasgow Warriors wat môremiddag om vier-uur in Johannesburg sou plaasvind, en die een tussen die Sharks en Ulster wat môreaand om kwart oor ses in Durban gespeel sou word. Die omvang van die uitbreking het meegebring dat die afrigters nie spanne vir die wedstryde kon saamstel nie. ‘n Nuwe datum vir die wedstryde sal later aangekondig word. Wat die ander twee Suid-Afrikaanse spanne in die reeks betref speel die Bulls vanaand net nou-nou in Treviso, Italië, teen Benetton, en die Stormers môreaand om half nege in Cardiff Arms Park teen Cardiff.