Lühl-Delgado kinders moet aansoek doen by Meksiko

Plaaslike media berig dat Namibiese owerhede van Binnelandse Sake die twee-jarige seun van Phillip Lühl en Guillermo Delgado, Yona, met ‘n sogenaamde bruin paspoort voorsien het sodat hy na Suid-Afrika kan reis en daar aansoek doen vir Meksikaanse burgerskap. Die bruin paspoort word gebruik vir vlugtelinge wat geen geboorteland het nie. Delgado is afkomstig van Meksiko. Luidens die berigte meen Namibiese owerhede op die manier kan Yona dan 12 maande in Namibië wees as Meksikaanse burger tot die hof se uitspraak oor sy ouers se aansoek om burgerskap vir hom. Intussen is die tweeling steeds in Suid-Afrika en die Lühl-Delgado egpaar het ‘n beroep op die Namibiese owerhede gedoen om hulle ook met bruin paspoorte te voorsien maar daar is nog geen uitsluitsel in die verband nie. Meksikaanse owerhede in die buurland het gesê ‘n burgerskap aansoek neem baie lank en het Namibiese owerhede gemaan om die belange van die kinders in ag te neem.