LPO reageer op Meatco se benarde finansiële situasie

Die Lewendehawe Produsente-0rganisasie, die LPO, sê in ‘n mediaverklaring in reaksie op Meatco se benarde finansiële situasie, dit het geen steen onaangeroer gelaat in ‘n poging om Meatco op ‘n lewensvatbare trajek te plaas nie. Die LPO sê dit is betreurenswaardig dat die beleidstoepassers en bestuur van Meatco die pogings van georganiseerde landbou as negatief beskou en dus ‘n eens trotse bastion vernietig het sonder enige rekenskap. Die LPO het reeds in Oktober 2021 ‘n voorstel vir ‘n volhoubare toekoms vir die beesvleis-waardeketting ook aan die ministers van landbou, finansies en openbare staatsondernemings oorhandig. Die kernbeginsels hiervan was dat Meatco omskep moet word in ‘n produsent-beheerde besigheid, wat slegs op gesonde sakebeginsels en internasionale beste praktyke funksioneer.