LPM beskuldig ministerie, Namdeb van ongerymdhede

Die Landless People’s Movement het in ‘n sterk bewoorde brief aan die myne en energie-ministerie hom beskuldig dat hy sy oë toehou oor vergrype by en deur die Namdeb Diamantkorporasie. Dit sluit volgens die LPM in belasting-ontwyking, onwettige myn-aktiwiteite en die doelbewuste misbruik van hulpbronne. Die party verwys ook na Namdeb wat 20 miljoen Namibiese dollar spandeer het om ‘n Seksie 21 maatskappy genaamd Omdis te skep, wat na bewering net papierwerk doen en wie se raad van direkteure bestaan uit Namdeb se bestuurslede. Omdis het ook na bewering ‘n gesogte konsessie langs die Oranjerivier gekry na ‘n vergadering agter toe deure in Oranjemund met lynminister Tom Alweendo en stedelike en landelike ontwikkeling-minister Erastus Uutoni. Die party beweer Namdeb spandeer 1,2 miljard dollar aan die bou van ‘n 34 megawatt kragstasie in die Spergebied, nadat hy dieselfde bedrag in tantieme kwytgeskeld is. Die beweringe gaan aan, met onder meer ook ‘n beweerde kriminele klag wat gelê is teen 12 Namdeb werknemers wat sonder permitte die Spergebied besoek het. Die LPM eis die arrestasie van hierdie beskuldigdes en dat al sy beweringe onafhanklik ondersoek moet word.