Longprobleme duur voort by meeste tieners na TB-behandeling

Die Universiteit Stellenbosch sê twee uit elke drie tieners wat met pulmonêre tuberkulose gediagnoseer is, ondervind long-abnormaliteite selfs na die suksesvolle voltooiing van behandeling. Die skokkende bevinding het na vore gekom in ʼn nuwe studie deur navorsers. ʼn Geraamde 850 000 tieners ontwikkel elke jaar tuberkulose, waarvan ongeveer 90 persent in lande woon met ʼn lae en middel-inkomste. Marieke van der Zalm van die universiteit sê adolessensie is ʼn belangrike tydperk vir long-ontwikkeling, en respiratoriese siektes soos TB kan moontlik inmeng met die normale ontwikkeling van die longe.