Liggaam van Angelique Delia Maarsdorp vasgebind in woonstel ontdek

Die lewelose liggaam van die 40-jarige Angelique Delia Maarsdorp is Sondagmiddag in haar woonstel in Klein Windhoek ontdek, vasgebind en in komberse toegedraai. Hoofinspekteur Elifas Kawinga van NamPol Openbare Betrekkinge sê die oorledene is deur haar vriendin en polisielede gevind. Haar ouers woon in Walvisbaai en kon haar sedert Vrydag nie in die hande kry nie. Hulle het haar vriendin gevra om na haar woonstel te gaan, wat gesluit was. Die vriendin het Maarsdorp as vermis aangemeld en die polisie is saam terug na die woonstel, waar ‘n venster deur die gebou se bestuur oopgemaak is. Maarsdorp se liggaam is in die sitkamer toegedraai en vasgebind in komberse ontdek. Daar was ook bloedvlekke op een van die banke en verskeie items word vermis, waaronder ‘n lig-metaalblou BMW 3-reeks, ‘n platskerm-televisiestel, ‘n skootrekenaar en ‘n iPhone. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.