Lid van Bundestag besoek Namibië oor Duitse volksmoord

Vir baie jare het lid van die Bundestag en Linkse Party, Sevim Dagdelen, haar beywer vir die erkenning van Duitse koloniale misdade en die de-kolonisering van Duitse buitelandse beleid. Weens die geskille oor die sogenaamde Versoenings-ooreenkoms tussen die Duitse en Namibiese regerings, besoek sy Windhoek vanaf 15 tot 19 November vir politieke gesprekke. Dagdelen sal met eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila en die speaker van die Nasionale Vergadering professor Peter Katjavivi, vergader. Verdere samesprekings word beplan met die Namibies-Duitse parlementêre vriendskapsgroep. Dagdelen sal ook die begraafplase by Okahandja en Waterberg besoek. Politieke kommentator dr. Ndumba Kamwanyah sê aan Kosmos 94.1 Nuus dit is belangrik dat iemand van daardie politieke statuur die kwessies kom aanspreek.