Landbou-kenner: Namibiese boere het deursettingsvermoë

‘n Namibiese landbou-kenner sê weens stygende insetkoste, raak dit al hoe moeiliker vir produsente om te boer. Die kumulatiewe wêreldwye impak op olie- en brandstofpryse, sowel as die swak algehele prestasie van die Namibiese dollar teenoor buitelandse geldeenhede, plaas steeds ‘n insetkoste-las op Namibië se veeboerdery, sê die Namibiese Landbou-unie. Sedert die tweede kwartaal van 2021 het die koste van brandstof met 57 persent gestyg, voer met 29,2 persent, dieregesondheid met 16,1 persent en voertuigherstelwerk met 13,1 persent. Jaarlikse agri-inflasie het onvermydelik met 19,6 persent geklim gedurende dieselfde tydperk en bly die hoogste in meer as 10 jaar. Landbou-kundige Wallie Roux sê aan Kosmos 94.1 Nuus Namibiese produsente het egter deursettingsvermoë.