Landbou in die tweede kwartaal in oorsig

Die Namibiese Landbou-unie se oorsig van landbou in die tweede kwartaal is bekend. Volgens die oorsig het agri-inflasie tot 19,6 persent toegeneem, veral as gevolg van die styging in insetkoste. Brandstof is 57 persent duurder met ureum wat met 102 persent gestyg het. Die unie sê die wêreldwye mark vir olie en energie is onder druk en netto energie-invoerders soos Namibië is uiters kwesbaar. Ru-olie in Junie vanjaar is 40 persent duurder as in Junie 2021 gemeet. Met die winter-seisoen aan die kom in Europa en uitdagings met voorraad, word daar verwag die pryse in die energie-mark verder sal styg soos vraag toeneem. Noodsaaklike bestanddele vir voere en kunsmis is ook onder druk. Ureum se prys het sedert Covid reeds gestyg maar daar is verdere ontwrigting as gevolg van die oorlog in Europa en sanksies teen Russiese kunsmis. Fosfaat is 50 persent duurder maar die goeie nuus is dat ontleders meen dat die element sy piek bereik het. Die koste van voer het met amper 30 persent gestyg met dieregesondheid wat 16 persent duurder is.