Landbou-ekonoom: Verwydering van ‘Rooilyn’ sal ekonomie knou

Landbou-ekonoom Dr. Kobus Laubscher het sy reaksie gegee op die Windhoekse Burgemeester Job Amupanda se pleit dat die veterinêre kordonheining in die noorde van Namibië verwyder moet word. Laubscher het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê dit sal ‘n baie dom besluit van die Namibiese Regering wees om die sogenaamde Rooilyn te verwyder. Hy meen dit sal die ekonomie van Namibië ‘n geweldige knou gee. Hy sê Amupanda moet eerder homself beywer om sake noord van Rooilyn te bevorder met vee wat weerskante van die grense tussen Namibië en Angola wei. Angola voldoen nie aan internasionale gesondheidstandaarde nie. Amupanda het sy regsverteenwoordiger, Kadhila Amoomo, instruksie gegee om op te tree nadat owerhede van die Departement van Veeartseny rou vleis wat hy by die Omuthiya-opemark gekoop het, by die Oshivelo-padblokkade gekonfiskeer het. Geen rou vleis wat noord van die veterinêre kordonheining aangekoop word, kan suid van die heining vervoer word nie, weens die gevare van die verspreiding van bek- en klouseer. Dr. Kobus Laubscher gee sy mening.