Krönlein-inwoners op Keetmans vra vir vooruit-betaal watermeters

Sowat 200 inwoners van die Krönlein-woonbuurt op Keetmanshoop het vandag ‘n vreedsame protesoptog gehou en in ‘n petisie ‘n beroep op die munisipaliteit gedoen om vooruit-betaal watermeters te installeer. Die gemeenskap sê in die petisie dit is nie dat hulle nie vir water wil betaal nie, maar hulle eis dat bekostigbare water aan hulle voorsien word. Die gemeenskap sê as hul krane deur die munisipaliteit toegedraai word, soos vroeër die week gebeur het, het dit ‘n negatiewe impak op hul lewens, veral tydens die Covid-pandemie.