Kripto-beleggingsmaatskappy CBI Exchange Namibia seëvier in hof

Die kripto-beleggingsmaatskappy CBI Exhange Namibia van Coenie Botha wat talle Namibiese beleggers se geld in kriptogeld-eenhede belê, het vandag ‘n sege in die Windhoek-hoërhof gehad toe Regter Marlene Tommasi beveel het dat sy bankrekening ontvries word. Dit volg nadat die Bank van Namibië op 4 Maart vir Bank Windhoek opdrag gegee het om sy bankrekening te vries. Regter George Coleman het op 18 Maart ‘n gedeeltelike opheffing beveel van die opdrag om die bankrekening te vries, en gelas dit moet geskied onder toesig van die Bank van Namibië en Bank Windhoek se gemagtigde beamptes. Botha vertel aan Kosmos 94.1 Nuus wat vandag in die hof gebeur het en sê hy het nog altyd vertroue in die Namibiese regstelsel gehad.