Krejcir gaan terug hof toe oor ontsnappingsklag

Die veroordeelde Tsjeggiese dwelmhandelaar, Radovan Krejcir, het ʼn nuwe prokureur, Abré Loubser, aangestel om hom te verteenwoordig in ʼn poging om die aanklag oor sy ontsnapping uit die tronk van die rol te laat skrap. Hy het sy vorige prokureur, Vusi Ngcobo, verlede maand afgedank. Krejcir word daarvan aangekla dat hy in 2015 ʼn plan beraam het om uit die Zonderwater Korrektiewe Sentrum in Pretoria te ontsnap. Hy het gister in die Landdroshof in  Kemptonpark verskyn waar die saak tot Woensdag uitgestel is. Hy dien ʼn vonnis van 35-jaar uit vir ontvoering en poging tot moord.