Kredietverlening sal gedemp bly vir eerste ses maande van ’24

Die groei in kredietverlening in die Namibiese privaatsektor het in November voortgesette swakheid getoon. Volgens IJG Sekuriteite kan die gedempte vraag na krediet gekoppel word aan die verhoogde repokoers van 7,75 persent en die prima koers van 11,5 persent. Inflasie gaan voort om die repokoers te oorskry, en dus kan die monetêre beleid as beperkend beskryf word. Die makelaarsfirma sê hy verwag dat die sentrale bank se Monetêre Beleidskomitee verhoogde koerse in eerste helfte van die jaar sal handhaaf, en voorspel dus dat die vraag na krediet gedurende hierdie tydperk op relatief lae vlakke sal voortduur. ‘n Verskuiwing word egter in tweede helfte van die jaar verwag met koersverlagings wat kan voorkom. Dit sal na verwagting die vraag na krediet in die laaste deel van die jaar aanwakker.