Korridorgroep besoek Brasilië

Die Walvisbaai Korridorgroep het ‘n afvaardiging na Brasilië gestuur as deel van sy voortdurende pogings om Namibië as die voorkeur handelsroete na Suider-Afrika te bevorder. Die doel van die besoek was om die Brasiliaanse sakegemeenskap, hawens, skeepsrederye, vragvervoer-maatskappye en nywerhede te betrek om geleenthede tot Namibië se voordeel te ondersoek. Die groep se hoof uitvoerende beampte Mbahupu Tjivikua, sê bevrore vleis-, hoender- en varkvleisprodukte, asook suiker en huishoudelike goedere is tans van die kommoditeite wat vanaf Brasilië deur Namport ingevoer word. Tjivikua sê ander kommoditeite soos sojabone, koring, mout asook buitebande word ondersoek. Die Walvisbaai-korridorgroep is daargestel om die benutting van Namibië se vervoerkorridors na die binneland van Suider-Afrika te bevorder.