Korridor-hoof gesels oor uitdagings

Die Walvisbaai Korridor-groep sê die Demokratiese Republiek van die Kongo en Zambië moet hul sogenaamde droë hawens in Namibië ten volle benut. Volgens die groep se hoof uitvoerende beampte Mbahupu Tjivikua, kan dit slegs bereik word deur die vrag te vergroot. Hy sê dit is noodsaaklik vir die DRK om sy droë hawe op ‘n soortgelyke manier te ontwikkel as wat Botswana, Zambië en Zimbabwe dit gedoen het. Hy voeg by dat Zambië se Zamcargo sy plaaslike operasies finaliseer en gevolglik is grond in die ou houerterminaal beskikbaar gestel vir die hantering van verskeie goedere en minerale in grootmaat. Die Walvisbaai-Ndola Lubumbashi Ontwikkelingskorridor is ‘n belangrike roete maar daar is uitdagings veral met oorgrens en nie-tariefhandelsversperrings in die streek. Volgens Tjivkua lei die kwessies na groot vertragings by die Kasumbalesa-grenspos waar die tou aan die Zambiese kant soms ‘n afstand van 170 kilometer van Lubumbashi na Ndola strek. Kwessies van transitogelde en raadsheffings in Zambië en DRK verhoog ook die koste om sake op die korridors te doen.