Korrektiewe Diens bekommerd oor reënval, sy landbouprojekte trek swaar

Die Namibiese Korrektiewe Dienste het ‘n gesamentlike projek met die Wêreldvoedselprogram begin om voedsel te produseer. Die diens vorder uiters goed met produksie by verskeie van sy aanlegte regoor die land. ’n 10-hektaar spilpuntbesproeiingstelsel, aangedryf deur 42 sonpanele, is by Hardap opgerig. Toekomstige planne sluit in die aanplant van 250 hektaar koring, mielies en groente in die Kunene-streek, wat daarop gemik is om by te dra tot die land se voedselsekerheid. Die hoof van die diens, kommissaris-generaal Raphael Hamunyela, het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê hulle hoop hulle kry genoeg reën omdat hulle ernstige uitdagings in die gesig staar weens die lae reënval tot dusver die jaar.