Kookolie sal nog duurder word

Die oorlog in Oos-Europa het reeds wêreldwye landbouhandel omvergewerp en om dinge te vererger het Indonesië nou aangekondig dat hy ‘n verbod op die uitvoer van kookolie gaan instel. Daar is volgens berigte ook tekorte in daardie land met gepaardgaande prysstygings. Die land is verantwoordelik vir meer as ‘n derde van die globale uitvoer van saadolie. Kenners meen dit is onmoontlik om Indonesië se verskaffing te vervang. Indonesië is die grootste produsent van palmolie, die wêreld se mees verbruikte eetbare olie. Die aankondiging het reeds pryse vir soja, sonneblom, olywe en meer laat styg. Weerstoestande by die wêreld se groot produsente van eetbare olies dra by tot vrese vir tekorte. Droogte het die grootte van sojaboon-oeste in Suid-Amerika, die wêreld se grootste produsent, laat krimp, so ook droogte in Kanada met lae kanola-oeste.