Kommunale boere kom nie plaaswerker-wette na nie

Die Vakbondkongres van Namibië, bekend as Tucna, vra vir ‘n ordentlike werksraamwerk vir plaaswerkers. Tucna se sekretaris-generaal, Mahongora Kavihuha, sê die raamwerk sal goeie werknemer-werkgewerverhoudings bevorder en produktiwiteit in die landbousektor verbeter. Die vakbond bied ‘n werkswinkel aan vir boereverenigings van Zambezi, Kavango-Oos en Kavango-Wes op Rundu. Kavihuha sê die inisiatief is daarop gemik om te verseker dat plaaswerkers al hul regte geniet, insluitend maatskaplike beskerming, werksekerheid, en die reg om onder meer by vakbonde aan te sluit. Kavihuha sê hulle het opgemerk dat die vakbond in die formele sektor uitstekend is met die versekering dat dié komponente nagekom word, maar dit is nie die geval onder kommunale boere nie. Hy sê hulle kom eenvoudig nie die bepalings van die Arbeidswet na nie. Kavihuha het ook die gebruik van trekarbeiders van Angola en Zambië, meestal in kommunale gebiede, as goedkoop arbeid veroordeel.