Kommer oor skaap-brandsiekte in Noord-Kaap

Die landboubedryf in die Noord-Kaap versoek boere om die verspreiding van skaap-brandsiekte te voorkom. Dit volg op uitbrekings in die De Aar-, Vosburg-, Carnarvon-, Williston- en Upington-distrikte. Die siekte veroorsaak ernstige vel-besmettings en wolverlies. Die woordvoerder van die Rooivleisprodusente-vereniging, Julize Volschenk, moedig skaapprodusente aan om streng bio–sekerheidsmaatreëls in te stel, aangesien die siekte uiters aansteeklik is. Volschenk raai produsente ook aan om te verseker dat werkers van klere en skoene verwissel wanneer hulle van een kudde na die volgende beweeg, om te verhoed dat myte oorgedra word.