Kommer oor sekuriteit in Tsjad

President Cyril Ramaphosa het sy kommer uitgespreek oor die verwikkelinge in die Republiek van Tsjad waarby gewapende groepe betrokke is. Dit volg nadat die land se president, Idriss Déby, dood is tydens skermutselings met rebelle. Ramaphosa sê geweld moet onmiddellik gestaak word om vrede en bestendigheid na Tsjad te bring as deel van pogings om konflik op die vasteland te beëindig. Die president sê hy is hartseer en ontsteld oor Déby se dood. Ramaphosa voeg by dat hy die geweld in die land veroordeel wat soveel lewens geëis het.