Kommer oor kwynende demokrasie onder Masisi

Die beweerde viktimisering van voormalige Botswana-president Ian Khama, Suid-Afrikaanse sakevrou Bridgette Motsepe-Radebe en ‘n voormalige Botswana-intelligensiebeampte Wilhelmina Maswabi is tydens die sogenaamde Universal Periodic Review vir Botswana geopper as voorbeelde van onderdrukking van mense se vryhede in die buurland. Regter Dumisa Ntsebeza en Cherie Blair, ‘n menseregte-advokaat in Genève, het diplomate ingelig oor die kwynende vryhede in Botswana en sê die land ervaar anti-demokratiese onderdrukking en ‘n stygende vlaag van politieke vervolging en geweld. Ntsebeza sê President Mokgweetsi Masisi gebruik dreigemente en wetgewing om die opposisie en media te teister voor die presidensiële verkiesing wat volgende jaar plaasvind. Hy voeg by dat dit kommerwekkend is dat Masisi bande het met AfriForum in Suid-Afrika wat hy meen ‘n rassistiese-apartheidsbeleid dryf. AfriForum is ingespan om Botswana by te staan in die berugte “Butterfly”-saak waar Khama, Motsepe en Maswabi daarvan beskuldig is dat hulle 100 miljard pula van die Bank van Botswana gesteel het. Hulle is vrygespreek van enige oortreding.