Kokaïen tussen piesangs in vraghouers versteek

Die polisie in die suide van Italië het beslag gelê op 2 700 kilogram kokaïen wat in vraghouers tussen piesangs uit Ecuador versteek is. Die dwelms is in twee vraghouers in ‘n hawe in die Kalabrië-streek gevind. Die waarde van die kokaïen is sowat 800 miljoen euro en was blykbaar bestem vir Armenië. Die polisie sê ‘n verdere 600 kilogram kokaïen is vroeër ook in vrugte-houers uit Ecuador gevind wat bestem was vir ander gebiede in Italië, Kroasië, Griekeland en Georgië. Kalabrië is die tuiste van die Ndrangheta, wat Sisilië se Cosa Nostra as Italië se magtigste mafia-organisasie vervang het.