Klimt-skildery behaal hoogste prys ooit in Europa, N$2 miljard

Gustav Klimt se Lady with a Fan is die duurste kunswerk wat tot nóg toe in Europa opgeveil is, nadat dit vir meer as 134 miljoen Amerikaanse dollar, of 2 miljard Namibiese dollar, in Londen verkoop is. Volgens die afslaer Sotheby’s is daar tien minute lank gebie voordat die bod op ‘n onbekende koper in Hongkong toegeslaan is. Die portretstudie was een van twee skilderye wat by die Oostenrykse kunstenaar se ateljee gevind is met sy dood in 1918. Die afslaer, Helena Newman, sê die skildery dateer uit die tydperk toe Klimt nog in sy artistieke fleur was, en is ’n toonbeeld van ál die tegniese vaardigheid en kreatiewe uitbundigheid wat eie is aan sy grootste werke.