Klagtes teen Trump-organisasie en baas

‘n Groot jurie in Manhattan, New York het klagtes teen Donald Trump se familie-besigheid, die Trump-organisasie oorweeg en besluit om die maatskappy en sy hoof finansiële beampte Allen Weisselberg aan te kla. Terwyl die spesifieke klagte eers vanmiddag bekend gemaak sal word, hou dit verband met belasting ontduiking na ‘n ondersoek na voordele by die maatskappy. Die voordele sluit privaatskoling vir een van Weisselberg se kleinkinders, ‘n luukse motor en ‘n woonstel in Manhattan in, waarop owerhede sê belasting betaal moes word. Die klagte sal eers bekend wees as Weisselberg en die organisasie se regslui in die hof verskyn het.