Klagtes oor korrupte Nampol-beamptes

Namibiërs het hulle nog altyd sterk uitgespreek oor gevalle waar ‘n polisiebeampte omkoopgeld sou vra in ruil daarvoor om ‘n klag of boete te laat vaar. In die meeste gevalle sal polisiebeamptes die omkoopgeld  in kontant verkies, want daar is geen spoor van die onwettige transaksie nie. ‘n Luisteraar het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê daar was onlangs ‘n voorval waar twee polisiebeamptes 1 500 Namibiese dollar kontant van ‘n verdagte geëis het nadat hy van ‘n misdaad aangekla is. Die twee beamptes het ook uiters vinnig by die toneel opgedaag, vir ‘n saak van aanranding waar daar nie eers ‘n besering was nie. Die verdagte het glo net 1 000 dollar gehad, wat hulle toe glo aanvaar het om die saak te laat verdwyn. Die direkteur-generaal van die Namibiese Teenkorrupsie-kommissie Paulus Noa sê aan Kosmos 94.1 Nuus dat Namibiërs enige gevalle van omkopery by hulle of die Nampol moet aanmeld.