Khomas-streek vorder in stryd teen MIV

Altesaam 24 256 mense in die Khomas-streek ontvang antiretrovirale behandeling nadat hulle positief getoets het vir MIV, wat insluit 580 kinders onder 18. Dit is volgens die Khomas-streeksraad se voorsitter, John Moonde, wat byvoeg dat 25 582 mense hulle tussen April en September vanjaar in die streek laat toets het. Vier-honderd-ses-en-neëntig van hulle het positief getoets, waarvan 435 individue aan sorg gekoppel is, wat ‘n 88 persent koppelingskoers verteenwoordig. Wat antiretrovirale terapie-uitkomste betref, het 401 kinders van nul tot 18 jaar ‘n 80 persent virale lading onder 40 kopieë per milliliter gehad, en 18 025 volwassenes ‘n merkwaardige 92 persent virale lading onder 40 kopieë per milliliter. Moonde sê hierdie statistieke beklemtoon die aansienlike vordering wat in die streek teen MIV/Vigs gemaak is.