Kenia verklaar Mackenzie se kerk as misdaadorganisasie

Keniaanse owerhede het ‘n kerk tot ‘n georganiseerde misdaadgroep verklaar nadat die leier sy volgelinge beveel het om hulleself en hulle kinders uit te honger sodat hulle hemel toe kan gaan. Die hoof van die Good News-internasionale kerk, Paul Mackenzie, word aangekla van moord, kindermarteling en terreur nadat honderde liggame van sy volgelinge wat sy opdrag uitgevoer het, in April verlede jaar ontdek is. Die verklaring baan die weg vir verdere ondersoek en moontlike vervolging van lede wat Mackenzie kon gehelp het.