Kaza brandpuntgebied vir mens-dier-konflik

Die Kavango-Zambezi Oorgrensbewaringsgebied is ‘n brandpuntgebied vir mens-dier-konflik, sê die Namibiese Omgewingsminister, Pohamba Shifeta. Hy sê uit die 1 486 voorvalle wat verlede jaar gerapporteer is, het 585 voorvalle van mens-dier-konflik in die streke van Zambezi en Kavango-Oos en Kavango-Wes voorgekom. Hy sê sy Ministerie probeer alles om die uitdagings van mens-dier-konflik in Kaza te takel en te verminder. Shifeta het die Ondersteuningsprogram vir die Kavango-Zambezi Oorgrensbewaringsgebied vir Volhoubare Wildbestuur van stapel gestuur. Kaza is die grootste oorgrensbewaringsgebied ter wêreld en beslaan 520 000 vierkante kilometer. Omgewingskenner Peter Cunningham het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê sodra mense en diere saamleef, soos in Kaza, sal daar konflik wees.