Kawana moet sê oor Cyril-diefstal

Die Namibiese minister van veiligheid en sekuriteit Albert Kawana moet meer besonderhede oor die gedoente met die rooftog by President Cyril Ramaphosa se plaas verskaf. Dit is die mening van die leier van die PDM-party McHenry Venaani. Meer as 4 miljoen Amerikaanse dollar, wat in meubels versteek was, is blykbaar deur vyf Namibiërs by Ramaphosa gesteel en die geld is plaaslik bestee. Die destydse hoof van Nampol se ondersoekdirektoraat, kommissaris Nelius Becker het in 2020 verslag oor die aangeleentheid gedoen en nie net gesê dat Ramphosa en President Hage Geingob oor die saak gepraat het nie, maar ook dat die Finansiële Intelligensie-sentrum die saak verder sal vat. Venaani het ook sy kommer uitgespreek oor inligting dat die hoof van Ramaphosa se beskermingseenheid generaal-majoor Wally Rhoode, Namibië geheimsinnig binnegekom het om plaaslik ondersoek in te stel.