Katrina se korrupsie-ondersoek ‘vorder goed’, agt jaar later

Plaaslike berigte lui dat die aanklaer-generaal nog moet besluit of die eertydse ministers Alpheus !Naruseb en Katrina Hanse-Himarwa vervolg sal word oor die toekenning van ’n hervestigingsplaas in die Hardap-streek aan Hanse-Himarwa se seun. Volgens berigte sê die direkteur-generaal van die Teenkorrupsie-kommissie Paulus Noa dat die saak goed vorder – agt jaar sedert ondersoeke na die grondtoekenning in 2015 begin het. Die twee word ondersoek omdat Hanse-Himarwa die voorsitter van die Hardap-komitee in verband met hervestiging was en !Naruseb die minister. Haar seun Denzil het die plaas Uhlenhorst ontvang al het die ander aansoeker Theresia Konjore ‘n hoër telling behaal. Hanse-Himarwa is in Julie 2019 skuldig bevind aan korrupsie in ‘n onverwante saak. Die hof het bevind dat sy haar kantoor vir selfsugtige redes gebruik het nadat sy name van ’n lys van begunstigdes vir ’n nasionale behuisingsprojek verwyder en met dié van een van haar familielede vervang het.