Katolieke Kerk ontwyk sy verantwoordelikhede – Trudeau

Die Katolieke Kerk moet verantwoording doen vir sy rol in wat beskryf word as kulturele volksmoord in Kanada. Dit is die mening van die eerste minister Justin Trudeau. Trudeau sê die kerk ontwyk sy deelname in die sogenaamde inheemse skole wat in die land bedryf is om inheemse Kanadese Westerse waardes te leer. Die skole wat tussen 1831 en 1996 in bedryf was, het onlangs weer die nuus gehaal nadat die oorskot van 215 kinders op die perseel van een van die skole gevind is. Volgens Trudeau het die kerk nog nie eienaarskap van sy rol in die skole erken nie. Meer as 150 000 kinders is met geweld van hulle families verwyder en in koshuise geplaas om volgens berigte, die ‘Indiaan uit hulle te haal’. ‘n Versoeningskommissie het in 2015 bevind dat die praktyk wel kulturele volksmoord was. Trudeau het reeds namens die Kanadese regering om verskoning vir die skande gevra.