Katjie Cash uit kitsbank gered

‘n Katjie is Cash gedoop nadat brandbestryders die diertjie uit ‘n kitsbank in Arkansas in die Verenigde State gered het. Iemand het die katjie in die OTM hoor huil en die Fort Smith-diereskuiling in kennis gestel. Die brandweer is gevra om te help en kon uiteindelik daarin slaag om die geïrriteerde en honger katjie uit die masjien te verwyder. Niemand weet hoe Cash daar ingekom het nie, maar hy het nou ten volle herstel. Hy sal ingeënt en aan ander katte bekend gestel word voor hy ‘n permanente tuiste kry.