Katjavivi looi begroting vir korrupsie-ondersoeke

Die speaker van die Nasionale Vergadering, professor Peter Katjavivi, het ‘n beroep op die regering gedoen om die jaarlikse befondsing van die Teenkorrupsie-kommissie se ondersoekafdeling te verhoog, en sê die 3,4 miljoen Namibiese dollar wat vir ondersoeke geoormerk is, is onvoldoende. Hy sê dis slegs 11 persent van die totale begroting van amper 30 miljoen dollar. In sy mening is ondersoeke een van die deurslaggewende komponente van die kommissie en almal weet hoe duur en omslagtig die proses van ondersoeke kan wees, veral in verband met fooie waar gespesialiseerde kundigheid en vaardighede vereis word. Hy sê verder dat prioriteit gegee word aan hoëprofielsake en beklemtoon dat dit van kardinale belang is dat die sake geprioritiseer word aangesien dit die potensiaal het om die land se kommersiële en finansiële belange te ondermyn wat kan groot potensiële finansiële verlies vir die land veroorsaak.