Kangaroe-troeteldier maak sy baas dood

‘n Australiese man is dood nadat hy aangeval is deur ‘n kangaroe wat hy as troeteldier aangehou het. Die polisie sê ‘n familielid het die 77-jarige man Maandag met ernstige beserings by sy huis in Redmond, suid van Perth, aangetref. Toe paramedici by die plattelandse eiendom aankom, het die kangaroe gekeer dat hulle die man behandel en die polisie moes die buideldier noodgedwonge doodskiet. Die man is op die toneel dood. Australië is die tuiste van sowat 50-miljoen kangaroes, maar aanvalle kom selde voor. Dit is die eerste noodlottige aanval in dié land sedert 1936.