Kanadese polisie vind nog liggame naby grens van VSA

Die polisie in Kanada het nog twee liggame naby die grens met Amerika gevind. Dit bring aantal mense wat die afgelope week dood is terwyl hulle probeer het om Amerika per boot oor die St. Lawrencerivier te bereik, op agt te staan. Ses liggame is Donderdag gevind. Volgens die polisie lyk dit of die slagoffers lede was van twee gesinne wat van Indië en Roemenië afkomstig was. Die slagoffers sluit minstens twee kinders met Kanadese paspoorte in. ‘n Dertigjarige man word gesoek vir ondervraging in verband met die voorval, nadat sy boot gevind is in die omgewing waar die lyke uit die water gehaal is.