Kamala en kie mag nie Rusland toe reis nie

Rusland het ‘n reisverbod opgelê teen die Amerikaanse vise-president, Kamala Harris. Dit is vergelding vir sanksies wat weens Oekraïne ingestel is. Die Russiese ministerie van buitelandse sake sê daar is reisbeperkings op 29 Amerikaners en 61 Kanadese. Dit sluit in Facebook se uitvoerende hoof, Mark Zuckerberg, die woordvoerder van die Amerikaanse Pentagon, John Kirby, en die adjunkminister van verdediging, Kathleen Hicks, asook die Kanadese direkteur van kommunikasie vir die eerste minister Justin Trudeau, Cameron Ahmad, die bevelvoerder van die Kanadese Spesiale Magte, Steve Boivin, sakeleiers en joernaliste. Die ministerie sê die verbod sal onbepaald van krag bly.