Kabinet wil Grondwet wysig oor toekenning van burgerskap

Die kabinet het die wysiging van Artikel 4 van die Namibiese Grondwet goedgekeur om die toekenning van Namibiese burgerskap deur afkoms moontlik te maak aan die afstammelinge van Namibiërs wat voor Onafhanklikheid uit Namibië gevlug het as gevolg van kolonialisme, maar sedertdien na die land teruggekeer het. Die voorstel is deur die ministerie van binnelandse sake by die kabinet ingedien. Die kabinet het die ministerie van justisie en die kantoor van die prokureur-generaal opdrag gegee om die opstel en sertifisering van die Grondwet-wysiging te bespoedig om in die parlement ter tafel te lê.