Vrywillige werkers van Covid-pandemie se kontrakte eindig al op 31 Oktober

Die Namibiese gesondheidsministerie het besluit om die kontrakte van al 1444 Covid-vrywilligers regoor die land op 31 Oktober te beëindig. Dit is volgens ‘n brief, gedateer 13 September 2022, wat deur die ministerie se uitvoerende direkteur, Ben Nangombe, geskryf is. In die brief het Nangombe verduidelik dat die besluit geneem is weens die aansienlike afname in Covid-gevalle en die herroeping van alle openbare gesondheidsregulasies op 25 Augustus, asook die ongunstige finansiële situasie waarmee die ministerie te kampe het. Hy skryf in die brief aanstellingskontrakte van alle Covid-vrywilligers sal op 31 Oktober 2022 beëindig word. Hy sê daarom word die brief gedateer 19 Mei 2022 oor die verlenging van die kontrakte tot 31 Desember 2022 hiermee teruggetrek.