Jongelinge vaar uitstekend in Voermeester-kompetisie

Die Bank Windhoek Voermeester Nasionale Bees-beoordelings-kompetisie is weer suksesvol by die Windhoek Skou aangebied. Dit is die vierde jaar wat die inisiatief aan leerders tussen graad 9 en 11 aangebied word. Hulle word die nodige vaardighede en kennis geleer om stoetdiere op plase en in skou-ringe te beoordeel, met die fokus elke jaar op ‘n ander beesras. Die programleier van Voermeester, Christo van Zyl, sê dat 23 skole regoor die land genooi is, waarvan 16 skole deelgeneem het. Hy sê aan Kosmos 94.1 Nuus 20 leerders het deurgedring na die nasionale jeug-beoordelaars-kompetisie tydens die Windhoek Skou.