Johan Meyer se saak tot 23 November uitgestel

Die saak van Johan Meyer, wat van strafbare manslag aangekla is ná die dood van die nege-jarige Hendrina Mupolo op Mariental, is tot 23 November uitgestel toe hy vanoggend sy tweede verskyning in die Mariental-landdroshof gemaak het. Die staatsaanklaer het die hof ingelig dat die ondersoek nog nie voltooi is nie en nog verklarings van getuies geneem moet word. Foto’s van die toneel is ook nog uitstaande. Die saak spruit uit die Mupolo, haar ma en verskeie ander wat glo besig was om boontjies op Meyer se plot by die Hardap-skema sonder sy toestemming te oes. Na bewering het hy probeer om hulle met sy bakkie weg te jaag en in die proses oor Mupolo gery. Mupolo is later in die hospitaal op die dorp aan inwendige beserings oorlede. Meyer, wat met die hoof-staatsaanklaer in die Hardap-streek Anita Meyer getroud is, is nooit in hegtenis geneem nie en het homself twee dae ná die voorval aan die Mariental-polisie oorgegee. Hy is daarna borgtog van 3 000 Namibiese dollar toegestaan en geen voorwaardes is aan sy borgtog verbonde nie.