Japan stel man wat 7 mense doodsteek vandag tereg

Japan het vandag ‘n man tereggestel wat skuldig bevind is aan die moord op sewe mense in ‘n mes-aanval in Tokio in 2008. Tomohiro Kato is tereggestel oor die aanval, wat begin het toe hy ‘n vragmotor in ‘n skare ingery het. Kato het aan polisie gesê dat hy op 8 Junie daardie jaar besluit het om mense dood te maak, en dat dit nie saak gemaak het wie nie. Hy het uit sy vragmotor geklim en lukraak begin om mense met ‘n mes aan te val. Die aanval was Japan se ergste massamoord in sewe jaar en Kato is in 2011 ter dood veroordeel, ‘n besluit wat in 2015 deur Japan se hooggeregshof bekragtig is. Japan is een van die min ontwikkelde lande wat die doodstraf behou, en openbare steun vir doodstraf bly hoog ten spyte van internasionale kritiek, veral van regte-groepe. Japan maak steeds gebruik van die galg vir sy teregstellings.