Jagter bestendig na aanval deur gemsbok

‘n Beroepsjagter is in ‘n bestendige toestand in ‘n hospitaal in Tshwane ná hy ernstig deur ‘n gemsbokbul in Thabazimbi, Noordwes, beseer is, tydens die hervestiging van wild. Die 32-jarige Marius Schoonwinkel moes per helikopter na die hospitaal gehaas word vir twee noodoperasies. Hy is ‘n lid van die Beroepsjagtersvereniging van Suid-Afrika. Volgens die vereniging is Schoonwinkel beseer toe die bul se horings hom net onder sy naeltjie deurboor het. Die vereniging sê hy is op ‘n ventilator, maar by sy bewussyn.